Saturday, February 16, 2013

Die seëning van uitsien...

En so kom ek aan die einde van my 5de week op universiteit...en ek verlang my dood.  Ek mis die Boesmanland se stiltes en vlaktes, die gronddam en elke aand se goue sonsondergang.  Ek mis my Pa met sy stywe drukkies en groot pappa hande oneindig baie.  Ek verlang na tannie Marinda se "liefkind", huiskos en fietsry elke oggend. 

Met joolnaweek, twee weke terug, kom verras my pa my.  Ek mag hom egter eers Saterdag sien en is sommer dadelik in trane daaroor.  Hulle verstaan nie hoe voel verlang nie...hulle verstaan nie die Boesmanlandse manier van doen nie...en hulle verstaan ook nie die liefhê tussen my en my pa nie.  Na vrydagaand se deurnag is ek doodmoeg en hoogs emosioneel,  maar ek weier om 'n sekonde kuiertyd met my pa te mis.  Ons kuier tot laatnag en ek is so bevoorreg om 'n dubbelbed met my pa te deel...sy snork soos musiek in my ore.  Sondag gaan los hy my weer by die koshuis...met 'n pakkie vol Boesmanlandse bederfies.  Rabas in 'n banksakkie vir intense verlang-aande, blaardeegwieletjies vars uit tannie Marinda se kombuis en 'n vinnige briefie vol seënwense en liefde.

Nou het nog twee weke verloop en die verlang word al intenser.  Vrydagaand droom ek my pa kom verras my weer...hy bring 'n angelier net om te sê hy's lief vir my.  Ons hou piekniek in 'n tuin en dan moet ek weer groet. Net daar en dan besluit ek om maar die naweek by Marcha in Klerksdorp te gaan kuier...naaste wat ek aan die huis gaan kom hier in die vreemde.

Vanoggend gaan fliek ons Klein Karoo.  Ek sien ons ou plaashuis met die breë stoep en sinkdak.  Ek ruik die stof van die grondpad, ek voel die vlaktes onder my kaalvoete en ek sien die sterre in die donkerhemel.  Oppad terug woonstel toe versoek ek dat ons na Marcha se "Plaasjapie" CD luister.  Boeretroue, 3 Susters, Die ou dorp en Klipwerf se Wie se kind is jy, maak my nostalgies.  By die huis gekom is oom Trevor besig om 'n Boesmanlandse tjoppie op die kole te gooi.  Ek maak vir my koffie in my rybeker, gaan sit langs die vuur en laat die verlange toe om twee nat spore te maak oor my wange. 

Nou sit ek met my dagboek voor my en tel die slapies...dis nog 21.  Nog 3 weke voor ek weer my pa kan styf vashou en luister na sy regte Makkie-Nel stories.  Nog 3 weke voor ek tannie Marinda se parfuum kan ryk en ver ente saam met haar kan gaan stap.  Nog net 'n klein bietjie uithou voor ek weer saam met Nasya kan huis-huis speel en bollemakiese slaan

Jesus seën my elke dag op nuwe maniere. Nou seën Hy my met 21 daggies van uitsien na die beste tyd van my lewe, na rus en vrede en met uitsien voordat ek my Hartsmense gaan sien.